Testimonial
Die Pad na Myself
LovePatch Traumaberading
In Mei 2025 beland ek op die swart bank van Vilia Reynolds, ná die afsterwe van my man, Derek Godfrey, ná tien jaar van huwelik.
Gebroke, verpletterd, vernietig—in die donker dal van doodskaduwee. Dit is die absolute wrede pad van die dood van ’n geliefde wat jou bors toedruk.
Geen toekoms nie. Geen hoop nie. Jou kop funksioneer net in oorlewingsmodus.
Jy is totaal leeg. Jy voel self ook dood.
Jy gryp na ’n vinnige oplossing—enige pil wat net die pyn kan laat verdwyn.
By Vilia begin ek onder op die Table of Attitudes. My eerste twee sessies het die laaste bietjie krag uit my lyf gedreineer. Duisende woorde loop paaie deur my kop.
Ek begin woorde gee aan my pyn, my emosies en die wanhoop waarmee ek gelaat is.
Vilia hanteer hierdie saak uiters professioneel—emosieloos, kalm en rustig. Ek huil sneesdoekiebokse vol. My brein is dood. Ek kan nie fokus nie. Maar die volgende week wag die swart bank weer vir my.
Jy word gedwing om diep in jou diepste wese te krap, oor en oor, en stadig maar seker begin jou pyn woorde kry.
Week ná week wag die swart bank, waar hoop stadig maar seker begin terugkeer—iewers tussen die warboel van rou emosies.
Op en af, soos die golwe van die see, spoel jy gebroke uit op die strand.
Die gat is donker met tye. Met elke besoek tel jy jouself weer uit daardie donker gat op.
Party dae voel jy gedreineer, tot op die been. En dan, amper soos magic, lig jy weer jou kop.
Daar is geen quick fix vir hierdie pyn nie.
Week vir week kry jy nog tools om jou duisende emosies te hanteer.
Sonder dat jy dit eens besef, klim jy stadig maar seker hoër op die Table of Attitudes.
Heel bo op die Table of Attitudes het MYSELF gewag.
Iemand wat ek nie geken het nie.
Iemand van wie ek nie gehou het nie.
Deur my reis by Vilia het ek besef: Daar is iemand wat ek nog oor het, en dit is myself.
Ná twee jaar waarin die dood die lewe wat ek geken het, kom verwoes het, het ek weer opgestaan.
Want aan die einde van alles was ek al wat ek nog oorgehad het.
Myself.
Nou koester ek die nuwe ontdekking van myself, saam met die mooiste herinneringe aan my man, Derek, wat ek vir altyd diep in my hart sal saamdra.
Maar ’n nuwe reis het begin.
’n Reis wat ek alleen moet aanpak.
Die pad na myself.
Wilmien Godfrey
Website note: This testimonial describes one person’s personal experience. Individual experiences and outcomes vary.
Wilmien Godfrey ,
